Avatar
New member
Nee jy hettie!
We had no power since 4pm yesterday and it came back only at 9... And they can't tell me what the issue is
Copy-paste (with redaction) van die email wat ek vir my ouers geskryf het. Die was 11 Sept laas jaar:
Die is 'n lang stuk die, so gaan maak eers koffie, voor jy begin lees.
Vandat ek Saterdag met jou gesels het, was ons lewens skielik baie swaar.. <WIFE> het mos Vrydagnag gewerk, en Sondagoggend weer begin 08:00 tot 12:00 middag Maandag. Gewoonlik sal ons dan kos maak wat sy kan inpak, maar elke nou en dan kan sy huis toe kom vir 'n uur of twee, omdat ons so naby bly aan die hospitaal.
So sit ons Saterdagaand en kyk tv, en beplan rofweg dat ek Sondag sal kos maak en dan ook sommer vir haar aflewer as sy nie kan weg kom by die werk nie, en soos ons nog gesels gaan die krag af. Ek kyk toe maar by die venster uit, maar in plaas van die donker buurt wat ek gewoonlik sien, het almal anders nog lig! Soos mens maak, gaan soek ek die fout, maar ek kry dit net nie.. Niks het getrip nie, ek het als af gesit en weer aan gesit, maar niks verander nie. So toe sit ons maar in die donker, en drink gasstofiekoffie.
Gelukkig het Witbank se munisipaliteit 'n 24 uur nood nommer wat 'n mens kan bel, so ek bel hulle, en sê vir hulle my krag is af, maar niemand anders s'n nie, en hoe dan nou? Hulle neem my details; my naam, <AVATAR> . My adres, <ADRES>. My selnommer, oh-eight-four-four-hundred-<NUMBER>-<NUMBER>-<NUMBER>. My rekeningnommer.....
O hel, ek weet nie!
Ek kry 'n rekening by die agente, met die bedrag wat ek skuld, maar geen teken van die rekening nommer daarop nie! O, nee, dan kan hulle my nie help nie. My gemoed het geval.
Maar ek gee dan vir jou die adres, kan julle nie net iemand stuur na die straat adres nie?
Nee, meneer, jammer, die stelsels is af. (Nou, hoekom die stelsels moet aan wees vir hulle om sonder 'n rekening nommer iemand by my te kry, verstaan ek glad nie, maar dis wat die vrou vir my gesê het.)
So wat kan ek maak?
Hier is vir Meneer 'n selfoon nommer van die vrou wat in finansies werk, sy kan meneer help.
Ek bel maar die nommer, al weet ek presies watter slang vir my lê en wag in hierdie gras.
Die foon lui en lui en lui. Toe daar uiteindelik antwoord is kom dit saam met 'n skreeuende peuter/kleuter/baba/kind:
"wêêêêêêêêêêêêêêêêêêêê--Hello?-êêêêêêêêêêêêê"
Ek sê toe "Hallo, ek is <AVATAR>, my krag is af en ek het my rekening nommer nodig, die beheer kamer het gesê jy kan my help?
"wêêêêêêêêêêêêêêêêêêêê--No-êêêêêê-I can't-êêêêê-help-êêêêêêêêêêêêêêêêêêêêêêêê-You-êêêê-need-êêêêêêêêêê-finance-êêêêê-depart-êêêêêêêêêêêê-ment-êêêêêêê""
"Ek dog dis jy?
"wêêêêêêêêêêêêêêêêêêêê--No-êêêêêê-I can't-êêêêê-help-êêêêêêêêêêêêê"
Okei.
Terug na die beheer kamer, waar iemand anders vir my dieselfde selnommer gee.
Ai.
Toe gaan stort ons maar ons laaste warm water uit, en gaan slaap.
Sondagoggend staan ons vroeg op, ek maak gasstofiekoffie vir ons, en <WIFE> gaan werk. Ek gaan toe weer deur die hele proses met die munisipaliteit. Rapporteer, naam, nommer, rekeningnommer, nee, jammer. Geen sukses. So Sondag het ek 'n drie-kwart van 'n boek gelees, en bittermin verder gedoen.
Maandagoggend. Ek bly by die huis, sodat ek die krag kan uitsorteer. En omdat ek Saterdag laas gestort het. Sommer kwart voor agt al, net na Tats werk toe ry, bel ek die agente. Hulle is gelukkig baie simpatiek, en spring dadelik in aksie in. Sommer vinnig het ek 'n nood/naweeknommer van 'n oom by die munisipaliteit en ons rekening nommer. Die elektrisiën is ook oppad.
Oom Alf, die elektrisiën, kom toe so twee uur by ons uit; so ek het my boek toe al lankal klaar gemaak. Hy gaan kyk by die munisipale aansluitingspunt, en kom rapporteer die slegte nuus: daar is iewers tussen ons huis en die aansluitingspunt, 'n kabel breuk. Dis 'n paar dae se werk om dit reg te maak!
"Het jy 'n generator?"
"Nee.."
Toe gee hy daai fluit wat 'n mechanic gee as hy die enjinkap oplig.
Daai fluit wat jou laat stres. Jou laat sweet. En as 'n mens twee dae laas gestort het, is sweet mos lekker.
"Ek sou nou een gaan koop as ek jy was."
Ek hou al 'n rukkie lank die pryse dop, want ek het gedink dis net 'n kwessie van tyd voor ek sou ene moes koop. So ek sê toe so.
"Hoe groot ene kyk jy na?"
"Seker so twee en 'n half kilowatt."
"Nee, vergeet dit. Jou geyser alleen trek drie kilowatt, hy gaan lag vir daai generator."
Dis waar, ek het nog heeltyd net gedink aan ene om ons deur load shedding te help, nie die hele huis te voorsien nie. So toe bel ek gou rond, Game, Just Tools, en ander, en gaan koop ek maar 'n 5.5 kW generator by Adendorff's in Witbank vir R8000 wat ek nou 'n klomp van vir Absa skuld. Sommer 'n gerry kan en olie en als ook daar gekry, en gou petrol gaan koop.
Dis baie geld. Dis vrek baie geld. Maar hel, daai warm stort Maandagaand was darem lekker!
Dinsdag kom werk ek weer. Gelukkig is almal, baas inkluis, baie simpatiek oor die skielik verlof vat sonder waarskuwing, en ons lot. Die agent gesels gereeld met my en probeer die munisipaliteit by ons kry. Hulle werk toe deur die dag aan die aansluitingspunt, en wil weet of die krag aan is of nie. Gelukkig kon <WIFE> toe huis toe skiet, maar die krag is nog af. Sy voel nog olik na die vreeslike naweek-werk, so slaap so bietjie en kry toe die generator aan die gang om ten miste klere te was en tv te kyk.
Minute na sy die generator aan skakel kom die munisipaliet werkers by die huis aan. Hulle werk so rukkie, en het dieselfde gevolgtrekking as Oom Alf - kabelbreuk. Nou moet hulle 'n metal detector tipe ding kry, en die volgende (Woensdag-) oggend terug kom om uit te werk waar daai breuk lê. Buite ons erf, is dit die munisipaliteit se probleem. Binne, is dit Oom Alf se probleem.
Maar <WIFE> het nou Dinsdagmiddag by die huis gebly om die ouens aan die gang te kry, so ek sê toe dat ek weer Woensdag by die huis sal bly. Ek sit en wag toe heeldag, maar met die generator kon ek ten minste klere was, stryk, stofsuig ens. om besig te bly. <WIFE> kom weer by die huis aan, maar daar is geen teken van die munispale werkers nie.
Kwart oor vier, staan die man voor ons hek. Ek laat hom inkom, en stap saam met hom en sy kollega rond, soos hulle soek na 'n aansluitingsboks. Hulle soek en soek en soek (sonder die metal detector tipe ding, want "iemand anders gebruik hom vandag"), maar kry niks, en kom toe tot die gevolgtrekking dat die ding ondergrond moet wees. My gemoed sink weer. Na vyf gaan daar mos nie gegrawe word nie!
Die man vra toe oor die bure..
"Ja, hulle het nog krag."
"Is hulle by die huis?"
"Nee, hulle is weg op vakansie. Hulle huurder is daar, as julle dink die aansluiting boks is daar?"
"Nee, die huurder kan nie help nie. Lamppaal?" vra hy vir sy kollega.
"Lamppaal", antwoord die man.
"Lamppaal?" vra ek vir myself.
"Ons gaan julle tydelik koppel aan die lamppaal se krag. Ons het gedink ons kan split by die bure, maar die lamppaal sal werk."
So begin ons te werk aan die lamppaal.
Die lamppaal het 'n dekseltjie op, en dit lyk nogals asof die primêre manier wwaarop die ding vas gehou was, roes was. En kyk, die metal detector tipe ding was nie al wat iemand anders gebruik het nie.. Die tools tot die manne se beskikking was 'n tang, 'n skroewedraaier, en 'n multimeter. So toe die een man begin om die allen head countersunk bout met 'n platbek skroewedraaier te probeer oop slaan, gaan haal ek eerder my allen keys.
Ongelukkig (of dalk gelukkig) het ek nie goeie allen keys nie. Ek moes op 'n stadium 'n stoel se bout vas draai, so dis nie asof ek iets moes torque daarmee nie.. So ek het die goedkoopste stel gekry, 'n R50 stelletjie. En toe strip ons dit ook soos 'n R50 stelletetjie. Maar in die proses het ons die bout so kwart pad uit gekry. Die man begin toe weer met die platbek skroewedraaier te slaan, so toe gaan haal ek my Q20.
Ek het omtrent 'n halwe blik Q20 spandeer op daai bout, om net bietjie beweging uit te streel, en vir die allen key se ander (ongestripde) punt, gaan haal ek toe 'n pyp om meer wringkrag te kan gee, en ek gebruik dit toe self, om verdere strippery te voorkom. Meer heellaas, al die drukking op die allen key het nog steeds net die bout tot so halfpad uit gekry, voor die punt ook finaal gestrip was.
Toe laat ek die man met die platbekskroewedraaier slaan.
Hy het toe uit eindelik die bout driekwart pad uit. Ons kan duidelik die lig aan die einde van die tonnel sien, maar die bout is nou al moer toe geslaan, en enige verdere houe laat die skroewedraaie net afgly. Ons turf sit. Toe besluit ek genoeg is nou genoeg.
Ek het my spaar saag-lemmetjies gaan haal, en toe sny ons daai bout af. So klein bietjie verdere man-handling en skop en trek en vloek en slaan, en ons het die roes-plaatjie van die lamppaal af. Dis omtrent toe wat Oom Alf weer by ons stil hou om te kom kyk wat die munisipale werkers reg gekry en uit gevind het. Ons gesels toe terwyl die munisipale werkers die elektriese drade koppel (gelukkig so dat ons heel dag en nag krag het, en nie net wanneer die straatligte brand nie!).
Oom Alf kan sien ek is verlig en bly. "Die verdien seker take aways, ne?" sê hy met 'n glimlag. Hy gee een kyk in my rigting, sien my gesig, en sê so bietjie sagter, "Julle is seker al gatvol vir take aways.."
Tussen Oom Alf en die munisipale werkers moet hulle nou nog die kabel kom reg maak, maar vir nou het ons warm water en 'n oond (net nie gelyk nie, want "die kabeltjie is maar dun") en lig, en dis als gratis so, ek kla nie!
Dit was 4 Sept wat die krag af gegaan het. Hulle het intussen ons op die bure se lyn gesit, so ons en bure het nie kragrekeninge gehad vir 'n rukkie nie. Hulle het laas week (!) uiteindelik die kabel reg gemaak en ons weer op regte elektrisiteit gesit!